Die week se Lewende Water - 5 April 2026
Die week na Opstanding voel altyd soos ’n oorgang, van die heilige oomblikke terug na die gewone ritme van die lewe.
Skool begin weer, roetines skop in, die alarms lui vroeër, en die wêreld vra weer sy aandag.
Dis amper asof Paasfees vinnig agterbly, en tog bly die vraag steeds vir my: Wat beteken die opstanding hier, in my oggende as ek wakker word, in my klas, in my werk, in my moegheid?
Want dit is maklik om die opstanding te vier, maar moeiliker om dit te leef wanneer die lewe weer ernstig raak.
Die dissipels het ook nie van die leë graf reguit in sekerheid ingestap nie. Hulle het teruggegaan na hulle gewone ruimtes, huise, tafels, geslote deure.
Hulle het steeds gewonder, steeds gesukkel om te verstaan. En dit is juis daar waar Jesus hulle ontmoet.
Dit beteken iets vir ons: die opgestane Christus wag nie vir jou om eers alles bymekaar te hê voordat Hy naby kom nie. Hy stap in jou gewone lewe binne.
Dit laat my wonder: Leef ek anders omdat Jesus leef, of het niks eintlik verander nie?
Want as die opstanding waar is, dan beteken dit dat selfs my terugkeer na skool of werk nie net ’n herhaling is nie, maar ’n ruimte waar nuwe lewe moontlik is.
Dit beteken dat God nie net in groot oomblikke werk nie, maar juis in die klas waar jy sit, in die mense wat jy ontmoet, in die uitdagings wat jy dra. Maar dit vra dat ek anders kyk, dat ek oop bly vir God se beweging, selfs in dit wat vir my normaal voel.
My uitnodiging aan ons almal is om nie die opstanding agter te laat saam met die vakansie nie.
Vat dit saam in jou daaglikse ritme in. Wanneer jy weer in jou roetine instap, onthou, Jesus het nie net die graf oorwin nie, Hy loop nou saam met jou. In elke taak, elke gesprek, elke nuwe begin. En dalk, net dalk, begin jy Hom juis daar raak sien, waar jy dit die minste verwag.
Groete
Ds. Jacques
Familienuus
Kliek hier vir die Familienuus van 12 April 2026.