Die week se Lewende Water - 1 Desember  2025

Die laaste Lewende Water vir 2025. 

Liewe vriende 

Hoe sluit ’n mens Lewende Water af vir ’n jaar? 

Dit laat my dink aan die gesegde: “Daar moet nog baie water in die see loop.”

Maar ek wonder… hoeveel van ons kan met oortuiging sê: “Nee, ek stem nie saam nie – die see is vol. My doel is bereik.” 

Die tempo van ons lewe, saam met die spanning wat dit bring, fluister egter dat die see nooit kan vol word nie. ’n Stil stemmetjie sê: “Gee net nog ’n bietjie… werk net nog ’n uurtjie… stuur net daardie laaste e-pos… hanteer net nog hierdie transaksie… dan, dalk, sal die see vol word.” 

Prediker 1:7 herinner ons egter: 

“Al die strome vloei na die see, maar die see word nie vol nie.

Na die plek waarheen die strome vloei, daarheen vloei hulle altyd weer.” 

Wat leer dit ons? 

1️⃣ Die see gaan nooit vol word nie.

2️⃣ Die strome sal altyd weer vloei – daar kom altyd weer ’n kans vir die dinge wat nie vandag gedoen word nie. 

Wat moet ons dan saamvat? 

“Die slotsom van alles… Dien God en gehoorsaam sy gebooie.

Dit is wat van die mens gevra word.” (Prediker 12:13) 

Laat ons dus ophou om ons lewens só besig te hou met die poging om die see vol te maak. In hierdie Kerstyd herinner ons onsself eerder daaraan dat God mens geword het – vir jou en vir my. Vul jou hart met Hom, en wees minder bekommerd oor die water wat steeds gaan vloei en jou vreugde wil steel. 

Mag jy onthou: God het mens geword vir jou, en vir jou gebrokenheid het Hy ook aan die kruis gesterf. Sy genade dra jou.

Sy menswording beteken dat Hy jou gevoel van “ek word nie vol nie” verstaan – want Hy het self tussen mense gewoon. Hy verstaan jou. 

Laat toe dat God jou dra in hierdie seisoen.

Pause… en wees. 

Vriendelike groete

Ds Drian


  Familienuus 

Kliek hier vir die Familienuus, Sondag 7 Desember 2025