Lewende water - 19 Augustus 2019

Liewe vriende
Waarom bid jy?

Hierdie is dalk bietjie ñ swaar vraag so vroeg in die week maar tog baie belangrik.

Gereeld word ons as span gevra om by skole te open, soms word ons gevra om ook ander funksies te open met skriflesing en gebed; veilings, vergaderings, byeenkomste, skoolprysuitdelings en so kan ek aangaan.

Hierdie week moet ek by drie verskillende funksies open. En van hier die vraag.

Bid ek en jy omdat bid iets is waaraan ek blootgestel is, dit gewoonte geraak het en ons daarom voort gaan met die "tradisie", óf bid ons omdat bid deel is van wie ons is, en daar sonder ons nie kan nie, omdat ons in afhanklikheid lewe want nérens anders is daar vir ons waarlik hoop nie?

Ek is oortuig daarvan dat ons as gemeente, hard besig is om die geloofsgewoonte te vestig van "wees" in geloof.

Om te "wees" in geloof beteken dat ons nie twee keer dink wat ons "moet" doen nie, ons dink nie daaroor nie want dit is deel van ons DNA as gemeente. So ook is dit met gebed. Gebed is nie vir ons iets wat op ons "to do" lys verskyn nie, dit is deel van ons alledaagse leefwyse. Partykeer bid ons terwyl ons ry, partykeer op my kneë partykeer terwyl ek hardloop van punt A na B. Ons bid omdat ons in afhanklikheid lewe, ons bid omdat ons leef met die oortuiging dat buiten vir ons geloof is daar niks wat ons aan die gang- en in die lighou nie.

In ons reis die afgelope reeks in Johannes hoor ons, regdeur die evangelie, maar alreeds in hoofstuk 1 dat ons onsself bind aan die ware Lig. Ons bid omdat ons gebind is, en daarom deel is van ons menswees.

Ons bid jou ñ geseënde week toe.
Groete
Drian