Waar kom ons vandaan?
Die NG-Gemeente Kameeldrif is in April 1956 afgestig van die gemeente Derdepoort om die lidmate noord van die Magaliesberg, vanaf Wonderboomlughawe en Annlin in die Weste tot Baviaanspoort in die Ooste, in die Pretoriase bosveld, te bedien. Reeds van die begin af was die toe ylbewoonde boere- en dikwels ook boerende gemeenskap, 'n volwaardige gemeente. Die dinamiese fisiese groei in die gebied het daartoe gelei dat die Wonderboomgedeelte reeds in 1956 afgestig het. Alhoewel nog sonder 'n kerkgebou is eredienste gereeld gehou. Aanvanklik by die Hoërskool F.H. Odendaal - op voustoele wat met bydraes deur gemeentelede aangekoop is - en vanaf 1962 in die saal van die Laerskool Die Poort waar dit later so beknop geraak het dat die diakens in die portaal of agter die gordyne op die verhoog moes sit.
Sondagskool voor die pastorie...
Genadiglik kon die gemeente op 'n koue 10 Augustus 1968 'n eie kerkgebou inwy wat voortaan die fisiese fokuspunt van die groeiende gemeente sou wees. Van die begin af was sending, of dan uitreik in die moderne idioom, 'n hoë prioriteit vir die gemeente. Binne drie jaar nadat ds. Willie en mev. Rita Strydom as eerste pastoriepaar op 1 September 1956 ontvang is, begin ds. Mauritz van den Heever in April 1959 as sendeling in Vendaland - met 'n stroois as pastorie.
Sedertdien het die gemeente se uitreikaksies geseënd gegroei onder die besielende leiding van toegewyde leraars en werkers. Binne die gemeentegrense is die gemeente gereeld geestelik bedien en versorg deur 'n groot aantal leraars en pastoriepare wat elk op 'n eie wyse bygedra het tot groei en geestelike ontdekking. Hetsy by wyse van eredienste, bybelstudie, bidure, jeugbearbeiding en -kampe, passiespele, gemeente mobilisasie en gemeentefunksies. Kenmerkend van die twee oggend-ereredienste, afgestem op die voorkeure van ouer en jonger lidmate, is die gemeentesang. Die deur die jare goedbemande orrel in die eerste erediens om 08:00 op ‘n Sondag kerk en die klavier en ander instrumente in die tweede erediens om 10:00, dra onteenseglik by tot die lof en eer waarmee 'n dankbare gemeente haar Skepper eer. Die inwoners van die gebied waaruit die gemeentelede kom, vertoon van die begin af 'n interessante verskeidenheid. Die groot aantal huidige en afgetrede dosente, sakemanne, beroepslui en boere had en het een saak in gemeen: 'n liefde vir die natuur en respek vir God se skepping. Vanuit hierdie verbondenheid groei 'n gevoel van eie verantwoordelikheid en die begeerte om diensbaar te wees op 'n verskeidenheid maniere. Bewyse hiervan is te vind in die betrokkenheid van die gemeente en gemeenskap by 'n verskeidenheid aksies wat ingestel is op beveiliging, versorging en bewaring.
Vrouediens skink die tee...
Amptelike opening van kerkgebou
Eerste pare wat in kerk gedoop het