Lidmate van die kerk moet in die volgende tyd stem of hulle die nuwe Artikel 1 van die Kerkorde, soos voorgestel deur die Algemene Sinode in 2013, aanvaar.  Hier onder gee ons vir jou 'n beskrywing van waaroor al die bohaai gaan en wat jou verantwoordelikheid as lidmaat is:

Die Algemene Sinode beveel die volgende aan oor die wysiging van ons kerkorde naamlik, dat die huidige Artikel 1:

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.  Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.

soos volg uitgebrei word:

1.   Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.

 2.1 Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.

 2.2 Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ‘n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ‘n belydenisskrif onderskryf nie.

 3.   Die Kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ‘n uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied.

DIE IMPLIKASIES VAN DIE NUWE ARTIKEL 1

Dit is eerstens belangrik om te verstaan dat die voorgestelde artikel nie die huidige een verander nie, maar wel uitbrei. Daar kom twee nuwe sake by: die ekumeniese geloofsbelydenisse en die vrywillige aanvaarding/verwerping van die Belydenis van Belhar.

Die ekumeniese geloofsbelydenisse is:

· Die Apostoliese Geloofsbelydenis (Twaalf Artikels)

· Die Geloofsbelydenis van Nicea

· Die Geloofsbelydenis van Athanasius

Dit is nie nuut nie. Die NG Kerk (soos trouens die meeste kerke in die wêreld) het dit nog altyd aanvaar. Dit is waarom dit "ekumeniese" geloofsbelydenisse genoem word. Hierdie geloofsbelydenisse is egter nog nooit amptelik in die kerkorde as deel van die belydenisgrondslag van die kerk opgeneem nie. Die voorgestelde nuwe Artikel 1 maak dit egter duidelik dat die NG Kerk vashou aan die basiese leer van die kerk deur al die eeue.

Dit bly ons lidmate se eie verantwoordelikheid om te sorg dat hulle lidmaatbewys by ons ingedien is. Vul die vorm hier onder in om te kontrolleer of jou lidmaatbesonderhede korrek is:

Vul die woorde/nommer wat jy hier onder sien in sodat ons kan weet jy is 'n regte mens en nie 'n rekenaar wat die vorm voltooi nie

Onthou om die "stuur" knoppie hier onder te druk

Die tweede nuwe saak wat bykom is die Belydenis van Belhar. Sonder om in die besonderhede van die ontstaan van dié belydenisskrif in te gaan, kan net gemeld word dat dit in 1982 opgestel is deur twee Afrikaanse, gereformeerde kenners van die Bybel en die leer van die kerk, Proff Dirkie Smit en Jaap Durand en tydens ʼn sinodesitting van die destydse NG Sendingkerk goedgekeur is. Dit spreek sake aan wat nie in die huidige drie Formuliere van Eenheid (die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls) volledig behandel word nie, naamlik eenheid, geregtigheid en versoening tussen mense.

Daar is baie mense in die NG Kerk wat baie graag hierdie belydenis volledig as een van die belydenisskrifte van die kerk wil onderskryf. Baie ander mense in die kerk is daarteen gekant. Hierdie twee groepe mense met uiteenlopende standpunte het mekaar tydens die sitting van die Algemene Sinode in Oktober 2013 op ʼn wonderbaarlike wyse gevind en saam die voorgestelde nuwe Artikel 1 geformuleer. Dit maak ruimte vir mense wat dit graag wil aanvaar sowel as vir mense wat daarteen is en is ʼn voorbeeld van kinders van die Here wat mekaar vashou ten spyte van die feit dat hulle van mekaar verskil.

Die besluit waarin die Kerkraad van Kameeldrif  die gemeente moet lei, is dus nie of hulle "die Belydenis van Belhar aanvaar of nie", maar of hulle kans sien om almal in die NG Kerk, van die wat sterk oor Belhar voel tot die wat baie sterk daarteen gekant is, te akkommodeer deur die nuwe Artikel 1 van die Kerkorde te aanvaar. Die Sinode versoek elke gemeente om hierdie besluit met hul gemeentelede te toets.

Op die Kerkraadsvergadering van 23 Maart het ons kerkraad met 'n baie groot meerderheid besluit om aan te beveel dat ons Artikel 1 sal aanvaar.  Daar sal nou twee inligtingsvergaderings gehou word op Sondag 19 April en Sondag 10 Mei – beide om 09:00 tussen ons twee eredienste. Op 17 Mei sal elke ongesensureerde, volwasse lidmaat van Kameeldrif (d.w.s lidmaatskapsbewys (attestaat) is by die gemeente) die geleentheid kry om vanaf 07:30 tot 19:00 hulle stemme uit te bring volgens reglement 24, punt 2.2 van die kerkorde.  Dit sal per geslote stembrief geskied nadat die lidmaat bevestig het dat haar/sy naam in die lidmaatskapregister van die gemeente opgeteken is.  (Lidmate kan die vorm regs bo invul om uit te vind of hulle lidmaatskap wel in ons register opgeteken is.)

 

Kliek HIER

om die belydenis van Belhar

en die Begeleidende brief te lees

Dr Roelf Opperman bring sy stem uit tydens die kerkraadsvergadering van 23 Maart 2015.