19b14bb500

Die Skemerdiens is ‘n aanbiddingsdiens waar ons hoofsaaklik van Taizé liedere en stilte as aanbiddingsmiddele gebruik maak.

  1. DIE LITURGIE (VORM VAN DIE DIENS)

Die diens het week na week dieselfde vorm:  Eers ’n paar liedere, dan Skriflesings uit ’n Psalm met ’n Halleluja of Kyrie Eleison as respons, dan Skriflesing uit ’n Evangelie, 10 minute stilte, ’n gebed, ons sing die Ons Vader, dan luister ons na musiek of poësie of ’n aanhaling en daarna sing ons ’n laaste lied.

In die wêreld van Christelike kontemplasie/meditasie het die Psalms altyd ’n baie belangrike rol gespeel, daarom dat daar elke week uit die Psalms gelees word.

Omdat die verhaal van Jesus Christus so belangrik is vir die Christene, word daar elke week gelees uit een van die vier Evangelies.

Die rede waarom die vorm van die diens week na week dieselfde gehou word, is sodat ’n mens kan tuis raak met die vorm. Die vorm van die diens raak soos ’n stoel waarop jy sit om in God se teenwoordigheid te wees.  Die vorm van die stoel moet nie elke week anders wees nie, anders kry jy nie jou sit nie.

  1. DIE SANG

Taizé liedere is liedere wat baie herhaal word.  Uit die Taizé liedboek: ”Songs is one of the most essential elements of worship.  Short chants, repeated again and again, give a meditative character.  Using just a few words, they express a basic reality of faith, quickly grasped by the mind.  As the words are sung over many times, this reality gradually penetrates the whole being…”  Die meeste van die Taizé liedere is gekomponeer deur Jacques Berthier (1923-1994) en die woorde is óf aanhalings uit die Skrif, óf bekende gebede of aanhalings uit die geskiedenis van die kerk.  In die NG Kerk se nuwe Liedboek is dertien van Berthier se liedere opgeneem.

Besoek gerus die Taizé webblad www.taize.fr om meer te sien van Taizé.

  1. STILTE

Aanbidding is nie net praat nie, maar ook luister.  Die rede waarom 10 minute stilte gegee word, is sodat God se teenwoordigheid in die stilte ervaar kan word. “One of the Fathers said: Just as it is impossible for a man to see his face in troubled water, so too the soul, unless it be cleansed of alien thoughts, cannot pray to God in contemplation”

Dit is natuurlik  dat jou gedagtes sal dwaal in die stiltetyd.  Bring jou gedagtes net telkens terug na waar jy sit.  Die manier hoe jy jou gedagtes kan terugbring is deur jou gedagtes te hou by ’n woord of ’n frase uit die Skriflesings, of een van die liedere, of net jou asemhaling.  Moenie stry teen jou gedagtes nie, laat hulle net verbygaan en kom dan weer terug na waar jy sit.  Eintlik groei die hele skemerdiens uit stilte – daarom moet daar nie in die konsistorie gesels word nie.

  1. HOE OM TE SIT

Dit is belangrik om gemaklik te sit.  As jy op ’n stoel sit, sit regop met jou rug so reguit as mooontlik om goed en gemaklik te kan asemhaal.  Jou voete moet verkieslik langs mekaar plat op die vloer wees, anders is die kans groter dat jou voete of bene sal slaap.  Om op die vloer te sit, wek by sommige mense ’n bewussyn van nederigheid voor God.  Kyk eers voor die tyd hoe mens op ’n knielbankie sit.  Daar is knielbankies en komberse beskikbaar.  Die ideaal is dat elkeen ’n oop lyn het na die middelste banier en lampie voor – die stoele word so gerangskik.

  1. DIE BANIERE

Die banier in die middel stel die doringkroon voor wat Jesus op sy lydensweg gedra het.  Dit laat ons dink aan die lyding en die sterwe van Jesus.  Die kroon laat ons ook dink aan die oorwinnaarskroon waarvan Openbaring sê dat ons in Christus meer as oorwinnaars is.

Die banier links is in die vorm van ’n duif.  Dit simboliseer die Heilige Gees wat met Jesus se doop in die vorm van ’n duif neergedaal het.  Die Heilige Gees is elke dag by ons en inspireer ons tot diens aan God en aan mekaar.

Die regterkantste banier het ’n motief van ’n vis.  Dit simboliseer die voorsiening van ons Hemelse Vader – hoe Hy elke dag vir ons sorg.  Die eerste Christene het ook die vis-simbool gebruik om aan te dui dat hulle Christene is.  Die Griekse woord vir vis is “Ixthus”  Die eerste Christene het dit gebruik as ’n akroniem vir die woorde: Jesus, Christus, Redder, Seun van God, Verlosser.

Die kleure wat gebruik word is pers en oranje – die pers dui op die salwing van die Heilige Gees.  Dit dui ook op die mense wat seer het wat ons met sagte harte moet versorg. Die helder oranje dui op die sendingopdrag waar ons helder ligte moet wees wat elke dag ons lig uitstraal.

  1. WIEROOK

In die Ou Testament, Nuwe Testament en tot vandag word wierook gebrand om ook met die reuksin bewus te wees van God se heilige teenwoordigheid. In die wêreld van die mistiek wil God op meer wyses as net die verstand aanbid en beleef word.

  1. PLEK VAN DIE SKEMERDIENS

Die kerkraad van die Familiekerk NG Kameeldrif het besluit dat daar ruimte geskep moet word vir ’n alternatiewe erediens in die gemeente.  Daar moet veral gefokus word op persone wat behoefte het aan ’n kontemplatiewe spiritualiteit.  Hierdie tipe eredienste vorm deel van die Adoramus eredienste (Latyn=Ons aanbid) wat in die NG Kerk aangebied word.

  1. WAAR KAN EK MEER LEES OOR HIERDIE TIPE VAN AANBIDDING?

Lees gerus die boek : Gebed van die Hart of Stem in die Stilte wat beide deur Willem Nicol geskryf is.  Dit is by CUM boeke beskikbaar.