Kameeldrif Koffietafel
Carl Jordaan, een van ons ouderlinge, skryf die volgende:
Ek en die manne sit om die tafel in die klein biblioteek. Die atmosfeer is gewyd. Die groepie word begelei deur ʼn jong man wat hier leer kitaar speel het. Hulle sing uit hulle bundel liedjies soos “One day at a time” en “My sins were higher than a mountain”. Voordat ons met die Bybelstudie begin, wil hulle “Amazing Grace” sing, maar ek vra dat dit oorstaan tot na die studie, want vandag behandel ons Lukas 15 – die gedeelte oor die verlore seun. Daarna kan hulle die lied wat geskryf is deur die bekeerde seerower, John Newton sing, en kan woorde soos “Who saved a wretch like me” betekenis kry.
Hierdie manne het foute gemaak waaroor hulle skaam voel, goed waaroor hulle die Here om vergifnis smeek, goed wat hulle opregte berou oor het, maar mens kan nou eenmaal nie die horlosie terugdraai nie. Hulle dien almal lang termyne uit. Wat hulle gedoen het en hoe hulle pad verkeerd geloop het, maak nie saak nie. Wat saak maak is dat hulle ook soos die verlore seun by die varkpeule uitgekom het, en toe ontdek het dat daar hoop is. Daar is ʼn Vader wat verlang dat hulle huis toe moet kom en wat hulle met vreugde en blydskap inwag nadat Hy dag-na-dag die vlaktes ingestaar het. Dit is liefde so enorm, so vêr bo ons begrip, volkome, volmaak en sonder verwyt.
Maar daar is ook ʼn wêreld wat soos die van die oudste seun, wat gereed staan om te veroordeel en te verwerp, wat nog nie die omhelsing van ʼn verlangende Vader verstaan nie, wat net nie kan glo dat God mense se lewens radikaal kan verander nie en hier in die gevangenis gebeur daar sulke wonderwerke.
Een man verlang na sy familie, maar hy word nooit besoek nie. Hy is afgesny. Nog ʼn man bel sy dogter omdat hy gehoor het dat sy verloof geraak het, hy wil sy blydskap deel en sy sit die foon in sy oor neer.
As God met ander oë na mense kyk wat hulle bekeer , moet ons nie ook dieselfde doen nie? Laat ons dan anders optree as die oudste seun met sy oordeel en verwyte. Is dit nie dalk juis die oudste seun wat die verlore seun is in die verhaal nie?
Ek wil vra dat ons vir die gevangenis sal bid. Dat ons met ʼn ander bril na hulle sal kyk. Onder hulle is daar ware en opregte gelowiges wat vergifnis en hoop gevind deur die volmaakte liefde van God.
Bid ook vir seën op die werk wat onder andere ds Danie Kotze, Willem van Staden, dr Kobus Nieuwenhuizen en ekself daar verrig.
Carl Jordaan

Ons sal moet ontdek dat die “Gemeenskap van gelowiges” nooit die “doel” van die kerk was nie. Jesus se prediking was nooit daarop gemik om mense in gemeenskap saam te bind bloot om hulle sosiale behoeftes te bevredig, of omdat daar iets intrinsiek heiligs daaraan was nie. Waar gemeenskap die “doel” was van sy prediking, het dit gegaan oor gemeenskap met die arme, die uitgeworpene, die vreemdeling. Die Christelike gemeenskap was ‘n byproduk, en waarskynlik moet ons sê ‘n noodsaaklike byproduk, van mense wat gesê het hulle soek na ‘n lewe soos wat Jesus kom leer het, wat geglo het dat Jesus die godsdienstige realiteit totaal en al kom omvergooi het.
Hierdie mense was aanvanklik almal Jode, maar ‘n byproduk van hulle veranderde verstaan was dat hulle begin bymekaarkom het saam met ander wat hierdie selfde paradigmaskuif ervaar het. Dalk kan ons dit ook ‘n middel noem; binne die gemeenskap is saam gesoek na wat dit gaan beteken om Jesus te volg. In ‘n wêreld waar die kerk die status qou geword het, kan hierdie idee van gemeenskap egter skeef trek om die doel te word. Mense ervaar ‘n behoefte na gemeenskap, en siende dat die kerk nog altyd ‘n plek was waar vriende gemaak is, word dit die tot die doel van die kerk verklaar. Die taak van die kerk word nou suiwer om hierdie sosiale behoefte te vervul, en hierdie verhoudinge namens lidmate te fasiliteer. Die volgende woorde uit Lukas 6:27-36 tref my nogals:
“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word. “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so. En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ‘n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”
Die behoefte na gemeenskap is by almal daar. En almal wil graag met hulle eie soort gemeenskap beleef. Die taak van die kerk is om gemeenskap te fasiliteer met hulle wat nie van ons eie soort is nie, en gemeenskap te fasiliteer wat individue help in die “navolging van Christus” (om die woorde van Dietrich Bonhoeffer te gebruik).
Is daar ruimte vir die kweek van vriendskappe in die kerk? Is dit verkeerd “om die lief te hê wat jou liefhet”? Om jou eie soort mense mee te kuier? Natuurlik nie! Dit is ‘n natuurlike menslike behoefte. Met sonder die kerk, mense sal hierdie behoefte vervul kry. Partymaal sal dit dan ook met die kerk gebeur. Maar as ons dit die doel van die kerk maak, as ons die maatstaf vir sukses in die kerk maak hoeveel doodgewone vriendskappe by die kerk i.p.v op ‘n ander plek gebeur, dan moet ons rooi ligte sien aangaan. Dan gaan Jesus waarskynlik vir ons sê: “Julle is maar net soos die kroeg waar vriendskappe gesmee word, net soos die rugbystadion, net soos hierdie of daardie club. Julle doen wat mense nodig het om te doen, maar julle verstaan nog nie dat ek julle geroep het om juis iets anders te doen nie, om die lief te hê wat die wêreld vir jou sal sê jy nie hoef lief te hê nie, om die lief te hê oor wie niemand jou sal kwalik neem as jy hulle ignoreer nie”.

Een van die mees significant dele van die Abraham verhaal is dat God hier begin om ‘n pad te stap saam met mense waar geloof van een generasie na die volgende oorgegee word. In die verhale voor dit het God met individue ‘n pad gestap. Ons noem hierdie pad wat met generasies gestap word die verbond. Dit gaan oor die geloofstokkie wat van een generasie na die volgende oorgegee word.
Daar is baie idees oor jeugbediening, oor wat moet gebeur, wat nie, hoe ons kinders in die kerk in gaan truuk, wat ons met hulle gaan maak as hulle eers daar kom, maar enige eerlike kyk na ons jeugbediening oor die laaste 20 jaar maak die prentjie duidelik: Iets is verkeerd! Stadig maar seker sien ons meer en meer hoe die geloofstokkie laat val word van die een generasie na die ander.
Ons kan lank gesels oor hoekom, en daar is baie en komplekse redes daar agter. Oor wat moet gebeur dalk net die volgende: Ons moet weer die oorgee van die stokkie die verantwoordelikheid van ‘n hele generasie maak. Dit is die verantwoordelikheid van ‘n ouer generasie gelowiges, ‘n hele generasie, om die stokkie aan ‘n jonger generasie oor te gee, nie die verantwoordelikheid van ‘n handjievol uitgesoekte experts nie.

Ons alternatiewe erediens het iets soos volg verloop Sondagaand: Ek open die diens met die bid van die Onse Vader, dan die lees van die aand se teks, en daarna begin daar musiek speel en kan almal rondbeweeg. Gisteraand kon hulle gaan briewe skryf, skryf of verf op ‘n groot vel papier wat die aand se teks op gehad het, of stop by ‘n gebedstasie van kerse. Tussendeur kan hulle na die musiek luister, wat ook op een plek gelink was met ‘n prent, op ‘n ander plek met ‘n video, wat alles inpas by die preek wat kom, alhoewel die konnektasie nooit eksplisiet gemaak is nie. Maar elkgeval, hier is ‘n paar foto’s van ons erediens:

Skryf en luister, en sien en praat

Die gebedstasie

Gebede by die gebedestasie
Ons jeugvoorsitter, oom Kobus, wat verf langs die aand te teks

Wat is geestelike diepte? Waar vind mens dit? Almal is mos deesdae spiritual, en elke tweede ou wat ‘n boek skryf is die nuwe guru daarop om spiritual te wees. Is ek ‘n guru? Ek dink nie so nie, maar ek dink ek het al ‘n paar mense ontmoet wat werklik iets verstaan van geestelike diepte. Waar vind mens geestelike diepte? Ek dink hierdie is ‘n paar sinvolle idees:
I look back over my years in ministry and ask what has actually helped people change and deepen spiritually: (1) youth retreats, (2) short-term mission trips, (3) some small groups (I say some – others were a waste of time), (4) many one-to-one relationships, (5) getting people involved leading something or serving somewhere.
Brian D. Mclaren – A New Kind of Christian

Die pendelum swaai Desembermaande gewoonlik tussen twee uiterstes: Aan die een kant is daar die vakansiegevoel, die vrede, die ontspanning na ‘n harde jaar se werk. Aan die ander kant is daar die eensaamheid, die herinneringe, die depressie en die verhoudinge wat skeef loop. Hierdie Desember gaan ook swaar wees as gevolg van die baie persone wat hulle werk as gevolg van die ekonomie gaan verloor. Ek praat vandag met ‘n man wat more vir 600 mense moet sê dat hulle nie meer werk het nie. Die myne het hulle kontrak gekanselleer. Nou wonder ek maar net oor die 600 en hulle gesinne en oor Kersfees wat voorlê…. Hoeveel van die vrede en die vreugde gaan hulle hierdie jaar van die Christusfeer ervaar…?

George de Castro van Bosveldpark was vroeër by Baviaanspoort gevangenis betrokke. Hy skryf die volgende. Ons nooi jou uit om ook kommentaar te lewer op hierdie post, en natuurlik enige ander posts op hierdie blog ook.
MISDAAD
Die afgelope paar maande is Kameeldrif geteister deur misdaad.
Nie een het gevra vir misdaad nie, in teen deel niemand kan misdaad vryspring nie.
Ieder en elk was al ‘n slagoffer van misdaad of ken iemand wat deur misdaad getref is.
Waarom is Kameeldrif ‘n misdaad vrotkol?
In Kameeldrif gebied is daar verskeie sogenaamde rykmans “estates”. Aan hierdie estates kleef ‘n idée van BAIE geld en waardevolle artikels. Voeg nou daarby die ilusie van veiligheid / sekuriteits gebiede. Die gebied is SO GESOG dat selfs die burgermeester van Tshwane ‘n gedeelte van Leeufontein wil bekom vir oprigting van lae koste behuising.
Die misdadigers is ook ten volle op hoogte van watter polisiestasies swak of ontoereikende diens lewer. Misdadigers het ook informante in die polisie. Ongelukkig is van die polisielede op die misdadigers se betaalstaat. Let wel ek sê nie dat personeel van Kameeldrif polisie op misdadigers se betaalstate is nie.
Voorts is daar twee plakkerskampe by die polisiestasie. Die polisie het die kommando stelsel gesluit en absoluut in die hande van die misdadiger gespeel. Die polisie is uiter aard regstreeks verantwoordelik vir die vlaag misdaad in die Kameeldrif gebied.
Laastens is Kameeldrif geografies goed geleë ten opsigte van Mamelodi en Moloto. Moet ook nie die misdaad geteisterde Eersterus weggooi nie.
Om misdaad beter te kan verstaan is dit nodig dat ons kyk
na ‘n profiel van die misdadiger.
-
Die misdadiger is hoofsaaklik manlik tussen 15 en 38 jarige ouderdom.
-
lae skolastiese kwalifikasie – selfs ongeletterd.
-
Vriende kring bestaan hoofsaaklik uit mede misdadigers.
-
Alkohol en dwelms speel ,n belangrike rol.
-
Die nuutste truuk is om dames saam met die mans te laat werk.
-
Hierdie dames kom nie self in die huis of perseel nie maar word as wagte of spioene buite die gebou aangewend.
Hoe werk die misdadiger se brein?
-
Die misdadiger se brein draai totaal en al om misdaad.
-
Volgens oorlewering het die blankes baie geld en “valuables.”
-
Dit is hierdie “valuables” wat die misdadiger wil hê.
-
Tydens evaluering van die misdadiger se profiel is dit baie duidelik
-
dat misdaad al is waaraan die misdadiger kan dink.
Watter faktore gee aanleiding tot misdadige gedrag
-
lae skolastiese kwalifikasies
-
ongeletterdheid
-
huisgesinne waar een of albei ouers misdadige neigings openbaar
-
afwesigheid van een of albei ouers
-
wisselvallige toepassing van dissipline
-
totale gebrek aan dissipline
-
kan nie onderskei tussen realiteit en fiksie nie.
Wanneer misdadigers na ‘n fliek kyk, is dit nooit ‘n “love story” nie. Dit is altyd ‘n fliek waar in die ergste tonele van geweld en verkragtings voorkom. Soos misdadigers dit stel “hoe meer Brut; bloed en playboy daar in die fliek is soveel te beter. Ons is nie hier omdat ons blommetjies in die park gepluk het nie.”
Werkloosheid en armoede is nie indikatore van misdaad of misdadige gedrag nie. Hoeveel mense ken u wat arm of wekloos is wat nooit in misdaad verval het of hulle skuldig maak aan misdadige gedrag nie.
In 99% van huisbrake is een of meer van die aanvallers gewapen. Hierdie is wapens wat tydens vorige huisbrake of rooftogte buit gemaak is. Aanvallers kom altyd in bendeverband – altyd tussen 2 en 17 aanvallers.
Waarom kom die misdadigers nie een – een nie?”
Die antwoord is voor die handliggend. Omdat hulle lafaards is.
Teen wie is die misdaad gemik?
Hoofsaaklik blanke gesinne en dan spesifiek oumense, dames en weerlose kinders.
Kyk gerus by die robotte en u sal merk dat daar mans is wat kwansuis voertuie se windskerms was. Aldus die polisie “om ‘n paar sente te verdien”
Die stelling is onwaar. Daardie mans is slegs daar om oumense en dames te teister. Sogenaamde straatverkopers maak gebruik van ‘n plakkertjie met ‘n handsak of handsak en selfoon. Hierdie plakkertjies word ongesiens by robotte op jou motor se agterkant aangebring deur een wat reeds gesien het daar is handsakke of selfoon in jou motor. By die volgende robot word jou motor se ruit uitgeslaan en die skelm vlug met jou handsak of selfoon. Dit is vir ons ‘n bewys dat die polisie nie misdaad ken nie en dat hulle saam met die misdadigers werk.
Wat is die modus operandi van die aanvallers voor ‘n huisbraak?
Wanneer ‘n huis of perseel geidentifiseer is, word ‘n “spioen” van 5 uur die oggend naby die huis of perseel geplaas. Hierdie persoon obserweer wie ry; waarmee word gery en wie bly agter. Hoe laat verlaat die bure hulle huise.
Sodanige observasie geskied tot ongeveer 1 uur die middag, Ons het mos al baie die man, vrou of kind by die stopstraat sien staan. Hy of sy wag mos maar net vir die bus of ‘n taxi of dit is mos wat ons dink nê.
Die volgende middag is die persoon terug van 12 uur. Weer word observasie gedoen van wie kom hoe laat huis toe. Alles word waar geneem. Daardie aand of die volgende aand kom hy en sy bende en breek in by die huis of perseel.
Dan besef jy dat jy die een gesig al te vore gesien het maar jy weet nie waar of wanneer nie. Die selfoon era het vir die misdadiger baie meer voordele gebring as wat die normale mens kan dink. Nou word ‘n persoon by die lughawe identifiseer as ‘n slagoffer. Met behulp van selfone en mede bende lede word hy gevolg tot by sy huis waar hy dan beroof of aangeval word. Bende lede waarsku mekaar ook betreffende padblokades ensovoorts.
Hierdie kriminele slaan enige tyd toe maar daar is ‘n nuwe neiging om tussen middernag en vyf uur in die oggend toe te slaan. Ander misdadigers verkies om vroeg aand toe te slaan. Wees gevolglik op u hoede en verwag die krimineel enige tyd van die dag of nag.
Misdadigers erken dat hulle doodbang is omdat hulle nie weet wat op hulle wag nie.
Daar word summier geskiet net om te bewys hulle meen besigheid.
Vir die misdadiger is ‘n lewe niks werd nie. Hoeveel mense word gedood sonder dat iets gebuit word of selfs net vir ‘n selfoon.
Wat wil die misdadigers hoor?
-
dat die polisie nie misdaad kan bekamp nie;
-
dat die misdadigers in beheer is; en
-
dat die gemeenskap in vrees lewe.
Plaas aanvalle is nie soortgelyk as ‘n huisbraak nie. Die rede hiervoor is dat plase deur ‘n misdaadleier geidentifiseer en gemerk word waarna ander misdadigers die plase aanval. Die gemeenskap weet wie die leiers is wat die plase identifiseer maar as gevolg van bygeloof is hulle te bang om sodanige leier te identifiseer of selfs net in sy rigting te kyk. Plaas aanvalle kan gevolglik nie gesien word as ‘n huisbraak wat verkeerd geloop het nie.
Wat wys die misdaad statistieke?
-
dat huisbrake toe geneem het.
-
plaas aanvalle af geneem het., en
-
geweldsmisdade – moord en verkragting - af geneem het
Die skrywer wil hier net ‘n paar feite uitlig. Kyk en besluit dan self of u dan nog die statistieke as waar aanvaar:
-
plaas aanvalle word geregistreer as huisbrake wat verkeerd geloop het;
-
wanneer ‘n vrou of dogter tydens die huisbraak verkrag word of ‘n persoon tydens die huisbraak vermoor word, word slegs die misdryf van huisbraak geregistreer. Huisbraak is ‘n mindere klag as moord of verkragting.
Wie is hoë risiko gevalle om deur misdadigers geteiken te word?
-
huise of plotte met met elektriese omheinings;
-
huise of plotte met hoë borsmure om;
-
sogenaamde “sekuriteits gebiede”;
-
eienaars van vierwiel aangedrewe voertuie;
-
eienaars van duur duitse pasasiersmotors;
-
ou mense; en
-
dames.
Sogenaamde “sekuriteits oorde \ gebiede” is die nuutste foefie op die eiendomsmark. Ons Suid Afrikaners is groot “suckers” om vir die foefie te val en daar voor te betaal ! Hierdie is slegs ‘n skelm streek van die ontwikkelaars om ‘n vals illusie te skep van veiligheid.
Wat sê die misdadiger van hierdie sogenaamde sekuriteits oorde \ gebiede?
-
daar is baie “valueables” en ek wil dit hê;
-
die man by die hek is my broer. Vyftig rand R50 is my sleutel wat die hek oop maak;
-
die “domestic” worker is my sussie so ek het al die knowledge wat nodig is.
-
As ek nie kan sien wat agter die hekke ; mure of drade gebeur nie , dan sê dit vir my daar is baie “valueables”.
Nie eens ons gevangenisse; polisiestasies of weermagbasisse is deesdae veilige of sekuriteits gebiede nie. Die skrywer kan in alle opregtheid sê dat hy self al by ‘n sogenaamde sekuriteits gebied weg gewys is. Hy het 20 meter van die beheerhek deur die heining gegaan en die hele terein bespied en is selfs ingenooi vir tee en koekies deur van die inwoners. Nie een mens het gevra wie ek is of wat ek daar doen nie. Dit het my drie dae geneem om die direkteure van ‘n golflandgoed in die ooste te oortuig dat hulle geen maar geen sekuriteit het nie. Nadat daar aan my voorstelle aandag gesenk is, het inbrake totaal en al af geneem.
Die skrywer kan in alle opregtheid sê dat hy nog nie ‘n eerlike ontwikkelaar ontmoet het nie. Eerlike ontwikkelaars moet seker nog gebore word. Sou u dink ek oordryf kyk gerus of u ‘n kerk of enige plek van aanbiding op enige nuwe onwikkeling sien.
‘n Vraag wat daagliks in gesprekke op kom is of die polisie nog die misdaad kan beheer en of die polisie nog vertrou kan word?
Op albei vrae is die antwoord ‘n positiewe JA
Die enigste persone wat wil voorgee dat die polisie nie in beheer is nie is die misdadigers. In Kameeldrif NG kerk is daar baie goeie polisie manne en –vroue wat onder moeilike omstandighede steeds werk van hoë gehalte lewer. Kom wat wil ons is steeds trots op hulle. Natuurlik is daar elemente in die polisie wat hulle skaar aan die kant van die misdadiger MAAR dit kry ons in enige vlak van die kwartêr.
Die vraag moet eerder gevra word of die polisie van Kameeldrif beter diens aan die gemeenskap kan lewer ? Hier is die antwoord ‘n besliste JA.
Groete
Casper

Met die moorde en sinlose geweldadige misdaadgeweld die afgelope tyd in ons gemeenskap, kan ons as gemeente nie anders as te vra wat God van ons in so ’n tyd verwag nie. Ons glo dat God deur ons in die gemeenskap betrokke wil wees en dat ons regtig ’n verskil kan maak om vrede en veiligheid in ons gebied te kry. Omdat ons bekommerd is oor dit wat aan die gebeur is, het ons ‘n aksieplan saamgestel om regtig ’n verskil in ons omgewing te maak.
Ons noem die veiligheidsaksieplan Projek 373 na aanleiding van Psalm 37:3 : “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.”
As jy die res van die Psalm lees, sal jy sien dis ’n Psalm wat sê die Here is in beheer. Ons moet ons nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie,
want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer…
Ons aksieplan lyk soos volg:
Gebed:
Ons is afhanklik van die Here en ons kan niks sonder Hom doen nie.
- Daarom bid ons gebedsketting daagliks vir die misdaadsituasie in ons gebied.
- Selgroepe en Bybelstudiegroepe word ook gevra om die misdaadsituasie in ons land elke keer as hulle bymekaar kom op die tafel te sit vir gebed.
- Op Saterdag 15 November het ons saam met die ander kerke in ons omgewing ’n biddag gehou. Ons minister van Veiligheid en Sekuriteit , Minister Nathi Mthethwa, is ook na die geleentheid genooi. ’n Memorandum is aan hom oorhandig wat die veiligheidsituasie in ons gebied uitspel.
Draers van hoop
Gelowiges is altyd draers van hoop- al lyk dit of alles rondom ons vergaan.
- Daarom sal ons steeds in ons eredienste op God gefokus bly en aan Hom bly vashou
- Ons sal ook die Lewende Water van sy Woord na ons gemeenskap bly uitdra deur ook saam met die ander Christelike kerke in ons omgewing hande te vat in uitreikprojekte
- Ons sal ook ’n sentrum vestig waar predikers en gemeenteleiers van inheemse kerke opgelei kan word om dan later die Woord self aan hulle lidmate te haan uitdeel. Waardes soos respek, liefde, en verdraagsaamheid sal gekommunikeer word.
Professionele ondersteuning:
Wanneer iemand deur misdaadgeweld getref is, is dit nodig om professionele hulp te kry.
- By ons familiekliniek is daar professionele persone beskikbaar om jou hiermee by te staan
- Gespreksgroepe vir skoolkinders wat deur trauma gegaan het, sal by skole gefasiliteer word
- Ons ondersteun ook die krisissentrum by die polisiestasie waar trauma ontlont word
Inligting
Mens kan nooit genoeg kennis hê oor hoe om veilig te lewe nie. Daarom het ons inligtingsessies by die kerk aangebied oor hoe om paraat te wees
- Omdat alle bevolkingsgroepe in ons gebied ly onder misdaadgeweld sal daar ook ’n werkgewer/werknemer dag gereel word waar inligting oorgedra word
- Daar is ook ’n inligtingsdag gehou waar veiligheids uitstallers hulle produkte kan kom bekendstel
- Veiligheids-inligting word ook weekliks op ons e-nuusbrief “Muisbesoek” deurgegee, stuur gerus vir René by die kerkkantoor ’n email met ’n versoek om die Muisbesoek te ontvang: info2@kameeldrif.ng.org.za
Netwerkvorming
Die gemeente sien sy rol ook om die verskillende rolspelers wat elkeen op hulle eie na veiligheid kyk, bymekaar te trek en as fasiliteerder op te tree om werk te koördineer. Hier word alreeds saamgewerk met
- Polisiëringsforum
- Rampbestuur
- Community support
- Sakekamer
- Polisie
Stem laat hoor
Dit is belangrik dat die wêreld weet wat aan die gang is. Daarom sal ons van verskeie middelle gebruik maak om ons stem te laat hoor
- Dit gebeur wanneer ons inskakel by die polisiëringsforum
- Dit gebeur ook wanneer ons in die openbaar aksies onderneem om ’n bewustheid onder die breër publiek te vestig, byvoorbeeld die manne wat hule hare afgesny het as simboliek dat hulle nie op hulle eie krag vertrou nie maar dat hulle ook hierdie saak aan die Here wil oorgee
Veilige huis
- ’n “Veilige huis” word in die vooruitsig gestel waar slagoffers tydelik huisvesting kan kry
- Daar is ook alreeds lidmate wat hulle huise as veilige plekke vir kinders wat onmiddellik van ’n misdaadsituasie verwyder moet word, aangebied het
Langtermyn
Ons glo dat elkeen in die land die reg het tot ’n menswaardige bestaan en tot vryheid. Daarom ondersoek ons weë om werklik ’n verskil te maak ten opsigte van armoede in ons omgewing. Ons glo ook dat ons weer in ’n omgewing kan woon waar ons nie uit vrees heeldag oor ons skouers moet loer nie.

Ek preek Sondag uit 1 Tessalonisense 5:1-11, en gaan probeer dat ons bietjie ons denke oor wat die betekenis van die wederkoms vir vandag is stretch.
Wat gaan deur jou kop as jy hoor van “die hemel” of “die wederkoms”?
Dink jy die wederkoms het enige betekenis vir my lewe van vandag? Wat sal dit wees?
